skalieklip en lewenslesse: toe die Tankwa ons 'n lewensles leer
​die WildTracks4x4 vakansie groepie , Marius, Lana en Lydia was weer oppad en dit was Junie 2026. 
hulle sê die Karoo kies self wie hy wil verwelkom en wie hy wil toets. ons toets het gekom op die pad tussen die Cederberge en die Tankwa Nasionale Park, net anderkant die bekende Tankwa Padstal.
die Tankwa se berugte skalieklip het nie gespeel nie. voor ons kon keer, het ’n skerp klip ons bakkie se dieseltenk oopgesny. skielik het die vryheid van die lang pad verander in ’n noodrit na Calvinia.
wat ons nie geweet het nie, is dat die hemelsluise die vorige aand oopgegaan het. 100mm reën in daardie wêreld verander die grondpaaie in ’n verraderlike geveg. elke kilometer was ’n worsteling teen die modder, met die konstante vrees dat die diesel sou opraak voordat ons hulp kon kry.
uiteindelik het ons Calvinia bult-op binnegerol. nou vir die soektog vir iemand wat ons kan red. na die derde of vierde aanklop beland ons toe by die plaaslike ingenieurswerke. dit was nie ’n blink moderne werkswinkel met hi-tech toerusting nie; dit was ’n plek van basiese dienste, olie-gevlekte hande en praktiese planne.
terwyl daar aan die tenk gewerk is, het ek en die eienaar op ’n paar ou stoele gaan sit. in die Karoo jaag mens nie die tyd nie – jy deel dit. ons het lewensverhale uitgeruil, oor die reën gepraat en oor die hardheid van die landskap.
dit was daar, tussen die reuk van sweiswerk en diesel, wat hy iets gesê het wat my tot in my siel getref het. ​hy was iemand wat hard deur die lewe geslaan was. ​hy was ​n suksesvolle ingeneur met sy eie besigheid in Gauteng met n pragtige vrou en drie mooi dogters,​ maar die lewe het ander planne gehad, sy vrou is vroeg oorlede en die kinders is groot en op hulle eie. hy het die rotresies agtergelaat en n rustiger bestaan gekies.
 op n stadium kyk hy vir my en sê:
"om aan rykdom gewoond te raak, vat ’n dag, maar armoede vat ’n leeftyd."​ 
daardie woorde het in die lug bly hang. dit het my laat dink aan die veerkragtigheid van die mense wat hier woon. ons kla oor ’n stukkende tenk en ’n modderpad, maar vir baie is die stryd teen die elemente en die ekonomie ’n daaglikse realiteit wat nooit werklik "gewoond" raak nie.
ons het Calvinia verlaat met ’n heel tenk, maar ek het weggery met iets baie kosbaarder.........'n nuwe perspektief op rykdom, dankbaarheid en die diep wysheid wat jy net op die stowwerige (of modderige) sypaadjies van die lewe vind.


#KeepSearching  
#GodIsGreat {GiG} 
#AreYouStillHavingFun 
#CdV 
#VisualStorytelling 
#UrbanIdentity 
stuur
thank you, dankie

You may also like

Back to Top