Die Modder-wals na Kubu: Waar Onkunde soms 'n Seën is!
Ons was vier vriende op pad na die hart van die Makgadikgadi-panne: Charl, Lydia, Marius en Lana. As trotse lede van die WildTracks4x4-groep is ons nie bang vir ’n uitdaging nie, maar die panne het hul eie reëls.
Na ’n rustige eerste aand by Khama Rhino, het ons die neuse noord gedraai. Almal het gesê die panne is droog en veilig...... Met ons boswaens agter die bakkies – wat altyd dinge ’n bietjie meer "interessant" maak – het ons die uitgestrekte wit vlaktes aangedurf.
Alles het vlot verloop tot sowat 20 km van Kubu eiland af. Wat ons nie geweet het nie, was dat ’n storm die vorige nag die kors in ’n verraderlike modderbad verander het. 
Skielik was daar nie meer sprake van ry nie; dit was ’n modder-wals. Die bakkies het begin gly en die spanning in die bakkie was tasbaar. As ons hier sou vassit, moes hulp vanaf Maun kom – ’n reddingspoging wat dae kon duur.
Te midde van die gegly merk Lydia op: "O, nou gly ons lekker!" 
My reaksie was kort en kragtig: "My fok meisie, jy moet bid dat ons hier deurkom!"
Marius het agter gery, maar op daardie oomblik was dit elkeen vir homself en die duiwel vir die res. Toe ons uiteindelik by Kubu stilhou, het die personeel ons met groot oë aangestaar. Hulle kon nie glo ons het die pad oor die panne oorleef ..........in plaas van die ompad nie.
Ons het nie eers geweet van ’n ompad nie........
 Maar dalk is dit hoe die lewe werk: 
Soms is dit beter om nie te weet daar is ’n makliker uitweg nie, want dan druk jy deur dinge wat jy andersins nooit sou aandurf nie.
Stuur
Thank you!

You may also like

Back to Top